CNH: Markleiers vir stropers en trekkers in Afrika
CNH is bekend daarvoor dat hulle die boer se behoeftes ken en verstaan – en die sukses van die boer in al sy bedrywighede ten doel het.
2023 was ՚n uitdagende jaar vir die landboubedryf, maar CNH het uitgestyg deur hulleself as markleiers met betrekking tot trekker- en stroperverkope te vestig. Met 36,5% van die 2023- markaandeel vir trekkers en 49% vir stropers, volgens die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (SAAMA), vertel Jacques Taylor, die uitvoerende hoof van CNH dat hulle wil voortbou op hierdie sukses. Volgens verskepingsyfers kan CNH ook spog met 45% markaandeel in die res van Afrika en die Midde-Ooste.
Twee reuse onder een dak
CNH het twee handelsmerke onder een dak en hulle het die wenresep gevind om te verseker dat daar harmonie en gesonde mededinging tussen CASE IH en New Holland is.
“Ons is in ՚n baie unieke situasie om die twee handelsmerke te hê. Ons is dieselfde maatskappy, maar in die veld ding ons teen mekaar mee, net soos teen enige ander handelsmerke. Ons het ՚n baie interessante dinamika in die onderneming, maar tog steeds een doel as CNH. Ons werk hard daaraan dat elke handelsmerk sy eie kultuur het, maar uiteindelik is ons steeds een maatskappy,” vertel Jacques.
Elke handelsmerk het sy voordeel
Hoewel CASE IH en New Holland se aanbiedings baie ooreenkom, verduidelik Jacques dat dat hulle wel poog om die twee handelsmerke in die mark te differensieer.
“Albei het steeds ՚n volledige produkreeks, maar New Holland het spesialistrekkers en CASE IH het ՚n groter fokus op tegnologie,” verduidelik Jacques. Jy besluit self Een van die vele voordele van hulle toerusting is dat jy pasgemaakte oplossings na jou lande kan bring. Wanneer jy ՚n masjien by hulle koop kies jy die spesifikasies en tegnologie wat by jou boerdery pas.
Die boer is prioriteit by CNH
CNH wil hê hulle klante moet tuis voel by hulle, daarom het hulle vyf strategiese prioriteite:
- Ontwikkelings wat deur die boer geïnspireer word: Hulle mik om nader aan die boer te beweeg en hulle behoeftes te verstaan. Die terugvoering wat hulle ontvang van boere word gebruik vir verdere produkontwikkeling.
- Tegnologiese leierskap: Die klem hier is op die term leierskap en CNH streef daarna om aan die voorpunt van tegnologie te bly. ՚n Voorbeeld hiervan is toe hulle in 2023 Raven Industries, ՚n presisietegnologiemaatskappy, oorgekoop het.
- ՚n Sterk handelsmerk en handelaarsnetwerk: CNH streef daarna om hulle handelsmerk op almal se lippe te hê en ook hulle handelaarsnetwerk tot op ՚n sekere standaard te kry en daar te hou.
- Operasionele uitmuntendheid: Intern moet hulle onderneming doeltreffend bestuur word deur middel van die regte prosesse.
- Volhoubaarheid: ՚n Groot deel van CNH gaan oor volhoubaarheid. Om volhoubaar te kan boer, maar ook om volhoubaar te wees in terme van hulle produkontwikkeling. Die gebruik van henubare energiebronne is vir hulle belangrik en hulle het reeds elektriese- en metaantrekkers na die Suid-Afrikaanse mark gebring.
CNH se sukses
Jacques skryf hulle sukses toe aan hulle klante, die CNH-span en die CNHhandelaarsnetwerk. “Die mark was baie sterk die afgelope drie jaar, die aanvraag na nuwe landboutoerusting was uitsonderlik hoog. In 2021 het ons die CASE IHagentskap teruggeneem van die Invicta Holdings-groep en dit het ons in staat gestel om ՚n nuwe beeld van ons handelsmerke te ontwikkel. Gepaard met die nuwe produkte wat ons bekendgestel het oor die afgelope drie jaar, het ons net groei ervaar.” Nog ՚n groot stap vorentoe was die bekendstelling van Advanced Farming Systems (AFS) aan die CASE IH-kant en Precision Land Management (PLM) aan die New Holland-kant. “Dit het CNH geposisioneer as een van die leiers in landboutegnologie,” voeg Jacques by.
Opgewonde oor die toekoms
Vir CNH gaan 2024 die jaar van konsolidasie wees vertel Jacques. Hy verduidelik dat hulle verwag dat die mark bietjie gaan terugtrek na die afgelope drie jaar en dat hulle nou die klem laat val op naverkoopdiens en die beskikbaarheid van onderdele. “Ons as CNH het ՚n wesenlike groei in markaandeel ervaar, ook as gevolg van lang wagtye vir bestellings wat in 2021 en 2022 geplaas is, maar eers in 2023 afgelewer kon word. Ons was gelukkig dat ons na hierdie lang wagtye die produkte uiteindelik op die grond kon sit. Verskaffers was onder ongelooflike druk gewees en komponente was net nie beskikbaar nie, dit was immers vir ons en baie ander bedrywe een van die grootste uitdagings.” Hulle ervaar steeds probleme met betrekking tot die invoer en vervoer van produkte. “Die beskikbaarheid van vragskepe, vraghouers en uitdagings met ons hawens maak dit steeds moeilik,” sê hy
Nader aan die boer
CNH bly deurentyd naby aan die boer om seker te maak hulle voldoen aan hulle behoeftes. Deur boeredae by te woon, plaasbesoeke te doen en terugvoering van hulle handelaarsnetwerk te ontvang, verseker hulle hulle weet wat hulle verspreiders en boere nodig het.
“CNH het ook samewerkingsooreenkomste met baie rolspelers in die bedryf, soos ons verskaffers, saad- en kunsmismaatskappye, sowel as presisieboerderymaatskappye,” vertel Jacques. Hulle stuur ook deurentyd hulle personeel vir opleiding sodat hulle op hoogte kan bly van die nuutste tegnologie. Hierdie opleiding word plaaslik en internasionaal aangebied.
“Inligting is vrylik beskikbaar vandag danksy die Internet, en ons kom gereeld in situasies waar iemand reeds iets aanlyn raakgesien het en daaroor wil gesels. So dit is belangrik vir ons handelaarsnetwerk en span om op hoogte te bly van die nuutste tegnologie en produkontwikkeling,” meen Jacques.
Landbou en sy uitdagings
Met betrekking tot volhoubaarheid moet jou maatskappy eerstens winsgewend wees, dan moet jy ook na die volhoubaarheid van natuurlike hulpbronne omsien. “Die verbruiker kyk anders na voedsel en die voorsieningsketting, ek noem dit die sosiale lisensie wat landbou het. Ons moet verseker dat die manier waarop ons voedsel produseer sosiaal aanvaarbaar vir die mark is,” sê Jacques. CNH het ook ՚n noue verhouding met Agritechnovation wat psesifiek op presisieboerdery fokus.
Hy sê: “Ons het ՚n hele paar werksessies saam met hulle aangebied om boere in te lig oor die voordele van presisieboerdery.” Maar hulle harte strek verder as net hulle kopers, hulle is ook betrokke by gemeenskapsontwikkeling en veral universiteite en skole. In 2023 het hulle toerusting aan die Stella Landbouskool in Noordwes geskenk, betrokke geraak by Waterkloof Hoërskool in Pretoria en die geriewe by die NAMPO-plaasskool opgegradeer, om net ՚n paar te noem.
Landbou en sy kultuur
Jacques kom uit ՚n landbou-agtergrond af en boer ook self. Hy glo dat dit hom help om beter met die landbou-bedryf en mark te verbind. “Ek voel landbou is soos wiskunde, ek dink nie jy kan iemand wiskunde leer nie, hy moet dit verstaan. En ek dink landbou is dieselfde, jy moet ՚n gevoel daarvoor en vir die bedryf hê,” deel Jacques. Vir hom is landbou se kultuur en mense belangrik daarom is dit noodsaaklik om naby aan die mark te bly.
Wens vir landbou se toekoms
In sy nuwejaarsboodskap aan die landbousektor het Jacques mense aangemoedig om aan te hou hoop. Hoop is nie ՚n wens nie maar eerder die positiewe verwagting van ՚n uitkoms.
Jacques sê: “By CNH, die moedermaatskappy van wêreldbekende handelsmerke soos CASE IH en New Holland, het ons tot die besef gekom dat daar buitengewone krag in hoop is. Trouens, hierdie vermoë is ongetwyfeld die hoofrede vir ons maatskappy se wêreldleierskap in konstruksie- en landboumeganisasie.” Met die druk wat landbou ondervind om aan die eise van groeiende bevolkings, voedselsekerheid en volhoubaarheid te voldoen sê Jacques ons moet ons voorouers se voorbeeld volg en nie wegskram van probleme af nie.
“ʼn Boer maak ʼn plan! Deesdae kan ons probleme oplos deur slimmer te werk te gaan en om tegnologiese vernuwings in te span om beter en meer produktief te boer. Maar, bowenal, moet ons gesindheid en ons lewensuitkyk reg ingestel wees.” Hy sê deur doelbewus ons hoop en drome uit te voer, sal ons beslis môre die vrugte daarvan pluk.
Hy nooi boere uit om die maatskappy dop te hou, want daar is nog groot dinge wat 2024 inhou! “Ek nooi ook al ons boere uit; kom kuier by ons by NAMPO 2024 waar ons klem op nuwe produkte en nuwe tegnologie gaan wees. Ons sien uit om almal met ope arms te verwelkom.”
Besoek gerus CNH se webtuiste by www.cnh.com om meer te leer oor hulle wye reeks landboutoerusting